top of page

Groete uit Rustenburg en Johannesburg

Updated: Aug 19, 2022

Bertie moet vir besigheid in Johannesburg wees en hy vra my om saam te gaan. Siende ek nou baas is van my eie tyd en ons dit kan kombineer met ‘n kuiertjie by familie, aanvaar ek graag.



Ons land op O.R. Tambo-Lughawe in Johannesburg en ry met ‘n gehuurde motor na Rustenburg om die naweek by sus Val en swaer Basil deur te bring. Saterdag draf ons saam met die Springbokke teen die All Blacks op die veld. (Voor die TV.) Ons jubel en juig saam met die res van Suid-Afrika, want die Springbokke laat die magtige All Blacks behoorlik les opsê.


Sondag vier ons Basil se verjaarsdag saam met hul kinders en hul gesinne asook ander familie. Die verjaarsdagman maak sy lekkerste potjiekos, skoonseun Jaq help braai vleis, Val sorg vir haar heerlike peertert en slaai, Jolene en Chantal bring watertand-lekker biryani, smaaklike kerrie en stroopsoet pampoenkoekies. O ja, Basil sorg ook vir die lekkerste rotis wat ek al geëet het. Ons kuier soos net familie saam met lekker kos kan!


Rustenburg Familie:

Dinsdagoggend sê ons totsiens na ‘n laaste brêkfis saam met Basil en Val. Ons ry weer oor die Hartebeespoortdam en waardeer hoe die dam begin lyk sonder die water-hiasinte wat in 2017 meer as 30% van die dam se oppervlak bedek het. (www.vut-research.ac.za)


Middagete is by die gesellige Nineteen 69-restaurant waar talle ander (Johannesburgers?) ook dieselfde idee gehad het. Teen die een muur van die restaurant is muurpapier met berigte en advertensies uit tydskrifte van 1969. Op ‘n ander muur hang geraamde voorblaaie van Time magazine circa 1969 wat bydra tot ‘n besondere atmosfeer. Dis ‘n vakansiedag (Vrouedag) en die kelners het hulle hande vol, want ‘n paar van hul kollegas het nie opgedaag nie. (Seker te veel die vorige aand gekuier!) Die kos, toe dit uiteindelik opdaag, is baie smaaklik.



Ons bly in Sandton in ‘n selfsorg-eenheid van Timesquare Suites teen ‘n ongelooflike R600 per aand vir ‘n ruim spasie met ‘n volledige kombuis toegerus met 'n vierplaatsoof en oond, yskas, mikrogolfoond, ‘n wasmasjien en tuimeldroeër, koningin-grootte bed, goeie bedlinne, TV, badkamer, lugreëling, ‘n patio/balkon EN daaglikse skoonmaakdiens!

(Full disclosure: Hulle moes die yskas vervang, want dit het twee keer die krag laat afslaan; die oond het nie gewerk nie en drie van die stoofplate wou nie warm word nie; die (wit) handdoeke het beter dae gesien.)


Vir goeie sekuriteit, ligging en prys sal ek die plek aanbeveel. Sou mens langer wou bly, kan die nie-werkende items sekerlik ook vervang word.


Johannesburg is nie ‘n stad wat my aantrek nie. Dis verskriklik groot en besig en ek weet nie hoe mense voor GPS by hul bestemmings uitgekom het nie. Die aanwysings langs die pad is myns insiens nie genoeg nie, straatname is onduidelik of glad nie sigbaar nie. Volgens Bertie moes jy in die verlede maar aanwysings vra of ‘n padkaart gebruik.


Talle motors op die paaie het duike of skraapmerke en ek het ‘n goeie idee hoekom: van die motorbestuurders ry onverskillig en ek sien 'n hele paar voorvalle waar ‘n kar verbysteek en knap voor ‘n ander voertuig indraai. Verder is almal vreeslik haastig; waarheen almal ook al oppad is, hulle moes al daar gewees het. Ek sien ook in een dag ten minste drie motors wat onklaar langs die pad staan wat 'n aanduiding is dat motors nie na wense onderhou word nie.


Kaapstad het ook maar dieselfde probleme; miskien vind ek dit nie so erg nie omdat ons nou al meer as dertig jaar hier bly. (Ek het immers destyds gesê dat ek nóóit in die Kaap sal kan bestuur nie.) Dit bly maar oral ‘n kwessie van “Look out for the fool from the front!” soos Antoinette Pienaar (van Kruie kraai koning-faam) se ma glo gesê het.


Kenmerkend van finansiële vooruitgang, is die luukse motors wat oral in die Goudstad te sien is, so ook die mega-advertensieborde langs die snelweë. Tolpaaie sorg vir verdere uitgawes, want ons huurmotor het ‘n e-tolskyfie wat elke keer piep wanneer ons onder ‘n tolpad-brug deur-ry.


Die weer in Johannesburg is sonnig en dit is net vroeg-oggend en saans koud. Ek benodig glad nie die warm tops en truie wat ek saamgepiekel het nie. (Kaapstad darenteen, verwelkom ons met ‘n paar vet reëndruppels net toe ons uit die vliegtuig klim.)


So tussen afsprake deur, kry ek ‘n kans om by ‘n haarsalon ‘n afspraak te kry vir ‘n was-en-droogblaas. Dis ‘n spesiale prys op Woensdae vir R220, om die hare verder reguit te stryk met ‘n warmtang, is R40 ekstra. Gelukkig vir my wil ek dit juis nie hê nie.


Daar sit ek toe in Sandton in ‘n haarsalon en verwag vyfster diens. Die ontvangsdame/ harewasser/ droogblaser (duidelikheids-halwe noem ons haarJanine) kom vyf minute laat aan diens, maar die haarsalon is darem al oop. (Danksy die barber wat ook ‘n stoel daar het.) Die haarkapper (ons noem haar Bronwyn), by wie my afspraak vir 10-uur is, kom 15-minute laat en toe moet sy eers koffie en iets te ete gaan koop, want haar pap staan nog in die mikrogolfoond by die huis.


Intussen het die spraaksame Janine solank my hare begin was so tussen die telefoon beantwoord en instappers help, deur. Na die wassery begin sy my hare droogblaas terwyl ons te lekker gesels. Sy help my solank terwyl Bronwyn, wat intussen terug is, in die deur van wat ek aanneem hul kombuisie is, staan en eet.


Halfpad tussen die blasery deur bel Janine se ouma. Sy is by Shoprite en het nie geld vir die taxi t’rug huistoe nie. Kan Janine asseblief geld stuur? “My arme ouma!” sê Janine, maak verskoning, roep vir Bronwyn om my hare verder te kom blaas en woerts is sy uit by die deur.


Bronwyn is duidelik baie meer behendig met die blasery, sy is immers die eintlike stilis. Sy gesels nie so baie soos Janine nie, maar vra darem so twee vrae. Sy het duidelik ook lanklaas kans gehad om haar eie hare te was. Die oomblik toe sy klaar is met my hare, verdwyn sy weer om klaar te eet voor haar volgende kliënt opdaag. Janine is intussen terug en weer besig agter die toonbank, gereed om my betaling te ontvang.

Vyfsterdiens? Ek dink nie so nie.


Kunswerke op Nelson Mandela Plein:


Ons kry twee kuiers ingepas by familie in Ennerdale en Crown Mines. Tee en melktert by niggie Dot en haar dogter Lorelle en ‘n smaaklike aand-ete by niggie Bernadine en haar man, Tino. Bertie se neefs Billie, Henry en hul wederhelftes Wilma en Ronel kuier ook saam. Soos die gebruik is, bring elkeen ‘n lekker dis saam vir die geselligheid. Nig Joan en haar dogter Melissa asook Bernadine se dogter Natasha en haar gesin kom ook saamkuier.


Johannesburg Familie:



Na die vinnige heen-en-weertjie in Rustenburg en Johannesburg, is dit lekker om tuis te kom, Kaapse weer of nie. Die Kaap bly maar my hartsplek.


Iemand het ‘n Tiktok-video gepost van ‘n ma wat vir haar dogtertjie vra wat sy eendag wil wees as sy groot is. “‘n Pensionaris”, sak sy af. Nou ja, sy sien seker goeie voorbeelde van die pensionaris-lewe en dink dat dit nie te sleg is nie. Ek stem saam!


Pensionaris-groete tot ons weer gesels.


Shirley Rose

66 views

Recent Posts

See All
bottom of page