top of page

Groete uit die Kalahari

Updated: Jul 13, 2022

WEGBREEK IN DIE KGALAGADI OORGRENSPARK


Die Kalahari was nou nie juis hoog op my emmerskoplys nie, maar my familie is groot natuurmense en die Kgalagadi Oorgrenspark was beslis op hulle s’n. Nie dat mens sommer net op ‘n dag besluit en bespreek nie, mens kom nie eens by hul website in om ‘n bespreking te maak, selfs ‘n jaar voor die tyd, nie.


Skoonsus @Loretta Feris het verlede jaar in Julie met groot moeite, plek gekry vir nege van ons vir die eerste week van die Junie- skoolvakansie. Die week voor ons vakansie kry die Kalahari so baie reën dat fotos en videos uit die park paaie wys wat soos riviere vloei. Daar was selfs nuus van sneeu in dele van die Kalahari, gestaaf met fotos en videos!


Gelukkig is die weer met ons besoek heerlik sonnig asof daar aan ons ‘n spesiale versoek toegestaan is. Die Kalahari se kenmerkende rooi sandduine is net so hier en daar sigbaar onder die welige plantegroei na die gulde reëns van die vorige week. Plasse water oral getuig ook van die ongewoon-baie reën en ons beleef ‘n groen Kalahari wat geensins ‘n alledaagse gesig is nie.


Ons sien baie meer diere as wat ons kon droom, selfs ‘n leeu wat vlak langs die pad in die lang gras lê. Ons hoop dat hy opstaan sodat ons hom in sy volle glorie kan sien, maar Ta draai toe op sy rug en wys ons sy pote in die lug!


Groot troppe blouwildebeeste, gemsbokke en springbokke is oral te sien. Rooibontebokke met hul pragtige kastaiïng-bruin velle is minder, maar ons sien selfs ‘n paar van hulle. @Alize sien die eerste kameelperd (‘n aangename verrassing) van ‘n hele klompie verspreid oor die park. Skoonsus Mary neem ‘n paar mooi fotos van die langnekke. Hele paar volstruise wei oral in gesellige groepies, in pare, of alleen. Swartrug-jakkalse is so gewoond aan mense in karre dat hulle soms ritmies ‘n entjie in die pad saamdraf waar ons teen 50km per uur of stadiger aankruie.



Die park is ‘n voëlparadys en swerms spreeus kwetter vrolik in die bome of voer grasieuse vertonings uit in die lug. Ander geveerdes soos valke, uile, enkele aasvoëls en selfs ‘n hoep-hoep en horingneusvoel vergas ons met hul teenwoordigheid. Ons sien ook 'n hele paar gompoue. Soggens koer duiwe ons wakker.


Mense vertel mekaar waar hulle luiperds in ‘n boom gesien het, want hulle smelt so goed saam met die boom waarin hulle lê, dat mens by hulle verby sal ry as niemand jou waarsku nie.


Die eerste prys vir ons was die luiperd wat vlak voor Loretta-hulle se kar verby geloop het. @Ethan, haar seun, het die mooiste fotos van die pragdier geneem. Alhoewel ons twee karre agter hulle was, kon ons die luiperd goed sien soos hy doodluiters van die watergat af wegstap tot hy in die lang gras verdwyn.


Saans braai ons vleis en kuier om die vuur tot die koue ons vroeg die chalets injaag. Alize en Bertie is vegetariërs, maar hulle is nie afgeskeep nie. Ons het gesorg vir smaaklike bykosse en braai ook vegetariese burgers en wors. Ek en veral Alize het hopeloos te veel voorraad saamgeneem, ons sou vir nog ‘n week kon oorleef.


Water is en was nog altyd ‘n skaars kommoditeit in die Kalahari en ons het kanne drinkwater saamgeneem. Daar is wel gebottelde water en ander noodsaaklikhede beskikbaar by die winkels in Nossob en Twee Rivieren.


Water speel ‘n groot rol in die geskiedenis van die park. Aanvanklik het mens en dier meesal oorleef op veldtsammas wat tot vroegherfs volop beskikbaar was, andersinds moes hulle watergate en putte grawe om water te kry. Ons sien die tsammas oral langs die pad soos dit welig groei na die reën.



Boorgate was vroeg in die 1900s op verskeie plekke gesink en “boorgatwagters” was aangestel om dié waterbronne te beskerm. Een van die wagters, Hansie Human, se primitiewe kliphuisie op Auchterlonie is gerestoureer en is vandag ‘n klein museum waar ‘n grepie van hul leefwyse uitgebeeld word.


In Kgalagadi spring ons beurtkrag vry, want die park wek sy eie krag op. Tien-uur saans word die kragopwekkers afgeskakel en flonker die sterre soos diamante op swart fluweel. Alize sit een aand , nadat ons ander binnetoe is, in ‘n kombers toegedraai, en verwonder haar aan die sterreprag. Leanne merk op dat mens saans oop-oë kan slaap, só donker is dit nadat die ligte af is.


Kgalagadi Oorgrenspark, voorheen die Kalahari Gemsbokpark, het ‘n lang en interessante geskiedenis. Die park is vernoem na die Bakgalagadi wat in die Botswana deel van die park aan die oosbank van die Nossob-rivier gewoon het. In sy boek “History of the Kgalagadi National Park” (2021) skryf Koos Marais: “The exact history of the park is complex… It was a journey which began in the days of the Vilanders of Rietfontein and was concluded in 1999, a period of more than a century which defies all attempts at brevity.”


Die geskiedenis vertel van drie oorloë, (die Nama oorlog 1904 – 1908 en die Eerste - en Tweede Wêreld-oorloë). Vroeë blyplek van die Boesmans, later ook die Khoi-Khoin en Witmense, was dié woestyn meer as net die tuiste van die Kalahari-leeu, ander diere en plante. Van die eerste Witmense was Christoffel le Riche wat grond gekoop het van David, seun van Dirk Vilander.


Dirk Vilander was die seun van ‘n slawe-vrou en haar wit baas van Stellenbosch. Hy (Dirk) het by die Carnavon-Basters aangesluit in 1807 en het in1865 die groep noordwaarts gelei. Sommige het in Upington gebly, maar ander het verder Noord getrek. Hulle het Jacobus Afrikaner, seun van Jager en broer van Jonker Afrikaner, teëgekom. Die Afrikaners was Khoi-Khoin (Nama) wat uit die Kaapkolonie getrek het. “n Geveg het later tussen Vilander en Afrikaner se manne ontstaan en Vilander het na Mier getrek waar hy in 1866 ‘n “Republiek” gestig het vir sy groep van 100 Basters.


Die Le Riche-familie het baie te doen gehad met die ontwikkeling en bewaring van die park. Dirk le Riche en sy drie seuns na hom, het saamgewerk met boorlinge soos Makai Kruiper, Gert Mouton, Agarob Bladbeen, Vetpiet Kruiper en Tokkelos Org.


Vandag is Steven Smith, gebore en getoë in Loubos in die Mier Distrik, die hoofbewaarder van die park; Jaco Vilander is die kampbestuurder by Nossob, Isak Vilander die kampbestuurder by Grootkolk en Gharagab, Willem Vilander kampbestuurder by Bitterpan en Barry Vilander is petrolbeampte by Twee Rivieren. Die Vilander-broers is die seuns van Bertus Vilander, wat jare lank by Mata Mata gewerk. Hulle is almal nasate van Dirk Vilander, leier wat die Basterrepubliek in Mier gestig het.


In Koos Marais se boek is daar 'n verwysing na Elon Musk wie se ma, Maye Musk, se voorgeslagte ook deel van die Kalahari-geskiedenis is. Daar was 'n legende van 'n verlore stat in die Kalahari waar diamante volop is. Die legende het in die 1800s ontstaan toe 'n paar Boesmans na Amerika geneem is om in vertonings en sirkusse uitgestal te word. Gert Louw wat as tolk opgetree het, het die storie vertel van 'n verlore stat in die Kalahari waar diamante wat oral rondlê.


Getrou aan menslike natuur, was daar vele ekspedisies vanaf daardie tyd na die Kalahari opsoek na die rykdom. Maye se pa, Dr Josh Haldeman ‘n chiropraktisyn van Pretoria, was onder die laaste soekers. Hy het 16 ekspedisies onderneem om die verlore stat te vind; die eerste een in 1953. Haldeman se dogter Maye het met Errol Musk getrou en hul seun Elon genoem.


Nodeloos om te sê, die verlore stat met sy diamante is nooit gevind nie en ek is seker Gert Louw kry tot in sy kleintoontjie lekker, waar hy ookal vandag is.


Na ‘n paar onvergeetlike dae in die unieke natuurparadys, die Kgalagadi Oorgrenspark, is ons weer oppad huistoe. Ons gesels oor die wonders van die park en die lekker saamkuier. Vir my en Bertie was dit veral lekker om saam met ons volwasse kinders vakansie te hou; dit is ‘n totaal ander ervaring as toe hulle klein was. Ons onthou en gesels ook oor die ander lekker gesins-vakansies in die verlede.



‘n Wegbreek is lafenis vir die siel en ‘n groot voorreg wat nie vir almal beskore is nie, daarom is ek dankbaar en tel my seëninge.


Tot ons weer gesels, groete uit die Kalahari.

Shirley Rose


Bronne: History of the Kgalagadi National Park, 2021, Koos Smith

Fotos: Loretta Feris-Philander (Hooffotograaf met die grand kamera), Ethan Feris-Philander, Mary Feris, Alfred Feris, Bertie Feris, Shirley Feris & Leanne Feris

100 views

Recent Posts

See All
bottom of page