Giere en geite
- ferisshirley
- Nov 30, 2022
- 4 min read
Updated: Jan 25, 2023
OOR GIERE EN GEITE
Die mens is nou maar eenmaal ‘n fassinerende wese, elkeen met sy manier van doen en gewoontes. (Idiosyncratic: relating to idiosyncracy; peculiar or individual. Oxford Dictionary)
My ma het geglo daar is net een manier van doen en dit is haar manier; my skoonma glo dieselfde. Valerie het ‘n baie spesifieke manier hoe haar skottelgoed gewas moet word en ek het my verkyk aan hoe Charlotte ‘n baba se doek omruil.
Ek is self skuldig aan ‘n hele paar giere en geite, daarvan kan Bertie en my kinders sekerlik getuig! Ek het wel later tou opgegooi en die kinders se kamers uitgelos ter wille van die vrede. Mens moet darem iewers jou eie ding kan doen.
Natuurlik het kinders reëls en dissipline nodig, maar op ‘n stadium moet jy besef dat jou kinders nie klein replikas van jou is nie. Hulle moet leer om te ondersoek en selfs foute te maak. Ontdek dat ‘n fout nie ‘n vonnis is nie, maar ‘n geleentheid is om te leer.
Word mens meer of minder pedanties soos jy ouer word? As jou geite en giere niemand skade aandoen nie en dit maak jou gelukkig, doe zo voort! Soos ek ouer geword het, het ek besef dat daar baie meer as een manier van doen is. Veral in jou eie huis en volgens jou eie smaak.
Dit is bevrydend om te weet alles is relatief. Wat vir my te veel is, is vir iemand anders genoeg. Selfs minimalisme lyk vir elke individu anders. Overgeset synde: smaak verskil.
Die mens, so het ek ook geleer, is baie aanpasbaar. Daar is baie dinge waarsonder jy kan oorleef, maar waaraan jy tog so gewoond raak dat ‘n lewe daarsonder amper ondenkbaar is.
Soos baie mense het ek nie in weelde grootgeword nie, maar ons het darem die noodsaaklikhede gehad. Vandag is ek dankbaar om daardie dinge te geniet waarmee ek nie grootgeword het nie, maar waarsonder ek deesdae moeilik sal klaarkom.
So het ek byvoorbeeld die volgende behoeftes indien ek êrens heen gaan:
Die heel minste: water uit ‘n kraan, elektrisiteit en ‘n goeie bed om op te slaap. Ons het as familie nooit vir dae gaan kamp nie, hoogstens vir ‘n dag. ‘n “Happy Camper” sal ek seker nooit wees nie. Hoekom sal jy die geriewe van jou huis verruil vir slegter of geen geriewe nie? Dit maak vir my geen sin nie.
Volgende op my lys is ‘n boek of twee, want sonder ‘n boek gaan ek nêrens nie. Voor ek saans die bedliggie (nog ‘n vereiste) afsit, moet ek eers ‘n paar bladsye lees. Ook gedurende die dag as daar ‘n kansie is trek ek ‘n boek of ‘n tydskrif nader. As daar ‘n blokkiesraaisel in die tydskrif is, word dit heel eerste ingevul.
Deur die loop van die dag drink ek ten minste twee koppies tee en twee koppies koffie. Ek verkies my tee (Vyf Rose) met kondensmelk en die tweede koppie tee en koffie moet de-caf wees anders slaap ek sleg. Koffie verkieslik Jacobs Gold; ander koffie is te sterk en gee my ‘n kol op die maag! Ek piekel dus al bogenoemde met my saam as ons vir ‘n paar dae weggaan.
Nog ‘n noodsaaklikhede wat moet saam, is pynpille vir chroniese rugpyn en maag-medisyne; Lewensessens of Jamaica Gemmer of altwee. Ek het my pa se sensitiewe maag geërf en sukkel met slegte spysvertering indien ek enigsins van my gewone eetpatroon afwyk.
‘n Nuwe vereiste deesdae is wifi. Ek het nooit vantevore my laptop saam met my geneem nie, maar nou wil ek. Selfs al is daar ‘n TV in die kamer, is daar nie altyd ‘n program op wat ek wil kyk nie. Voorheen het ek verkies om met ‘n pen in ‘n boek te skryf, maar dit het ook verander. Op my laptop kan ek naslaanwerk doen en as ek daarop skryf, is dit soveel makliker om veranderings aan te bring.
Vir die ewige kragonderbrekings moet daar asseblief ‘n kragopwekker of iets wees vir elektrisiteit. In die winter kan mens nog in ‘n kaggel ‘n vuurtjie aanslaan, warm aantrek en onder ‘n kombers sit. Terwyl die somers in Suid-Afrika al warmer word, begin lugreëling of ten minste ‘n waaier al hoe meer ononderhandelbaar word vir my.
My neus is darem nie altyd in ‘n boek of my oë op ‘n skerm gefokus nie. ‘n Lekker kuier is een van die groot vreugdes op aarde. Vir daardie kuiers met familie of vriende wanneer die tyd verby vlieg en mens met so ‘n salige gevoel wegry, is daar geen plaasvervanger nie. Na so ‘n kuier het introverte (soos ek) eers weer tyd nodig om batterye te herlaai. Terwyl sommige mense (ekstroverte) “energized” voel deur mense om hulle te hê, is tyd op my eie nog ‘n noodsaaklikheid.
My huis is my “happy place” en na ‘n week weg, kan ek nie gou genoeg huistoe kom nie. Soos Madea in haar wysheid sê: “Daar is net twee plekke waar jy vrede moet ervaar en dit is jou huis en jou graf. As jy nie in vrede in jou huis kan wakker word nie, is iets verkeerd.”

Mens kan baie gou gewoond raak aan dinge waarsonder jy kan klaarkom en as ek moet, sal ek weer daarsonder kan wees. Tot tyd en wyl die “nice to haves” wel tot my beskikking is, sal ek dit geniet en waardeer.
Wat is jou giere en geite? Geniet intussen ook ander mense se snaakse gewoontetjies as jy dit raaksien.
Groetnis tot ons weer gesels.
Shirley Rose
NS. Luister na nog Madea-wyshede: Tyler Perry Madea’s Life-changing advice: Let them go www.youtube.com
Bình luận