top of page

Geen wenners in oorlog

VREDE OP AARDE, IN DIE MENSE 'N WELBEHAE...


Die jaar 2016 het ek en Valerie, my suster, die voorreg gehad om Israel te besoek. Terwyl die besoek vir beide van ons 'n geestelik-verrykende ervaring was, kon mens algaande deur ons reis, ook die spanning in die land aanvoel.


Een van die heiligste plekke in Jerusalem, vir Moslems sowel as Christene, is die Tempelberg. Op die Tempelberg is die "Dome of the Rock" met sy kenmerkende goue koepel, die plek waar Abraham na oorlewering vir Isak wou offer en waar die eerste en tweede heilige tempels van die Jode was.


Vir die Moslems is dit "al-Haram al-Sharif", die plek vanwaar die Profeet Mohammad opgevaar het na die hemel.



Die "Dome of the Rock" is vandag ‘n Moslem heiligdom en is sentraal geleë op die Al Aqsa -moskee-kompleks. Dit is al in 685 -705 VC gebou deur Abd al-Malik. Die dak was eers in 1994 met bladgoud bedek. Nie-Moslems word nie toegelaat om daar in te gaan nie.


Tydens ons besoek aan die Tempelberg, het ‘n groep Amerikaanse Jode onder gewapende soldate begeleiding, 'n rukkie na ons ook op die terrein aangekom. Die aanwesige Moslems het spontaan “Alahu Akbar!” begin dreunsing (chant).


Die groep Suid-Afrikaners is deur ons gids, 'n Israeliese Christen, bymekaar geroep en gevra dat ons eers net stil bly staan.Christine het onder haar man Johan se arm gekruip met onrus in haar oë.


Dit ondanks die feit dat ons teenwoordigheid, voor die Amerikaners daar aangekom het, sonder enige openlike beswaar aanvaar was. Miskien was dit die gewapende soldate? Dit was die eerste teken van die alomteenwoordige spanning.



Op ‘n ander dag het ‘n jong Israeliese meisie, waar ons in die toilet ons hande was, my gevra van waar ek is. Ook of ek nie bang is om na Israel te kom nie. Hulle leef daagliks in spanning, vertel sy. Ek het vir haar gesê dat ek nie bang voel nie, weet nie of dit is omdat ek van Suid-Afrika is nie.


Met ons besoek aan Betlehem, die geboorteplek van Jesus, en ook Jerigo, oudste stad in die wêreld, gaan ons deur ‘n swaar bewaakte grenspos, want die stede is geleë in die Wesbank. Die gewapende Israeliese soldate op die grenspos het gereed gelyk vir oorlog. Ek het gewonder of dit nou rêrig nodig is.



Ek was baie naïef oor die ware toedrag van sake in Israel. Mens lees en luister na berigte oor die nuus van gebeure in ander lande, maar dit is ‘n heel ander storie om self daar te wees en die atmosfeer te beleef. Nuus word meestal ook aangebied uit die oogpunt van die nuus-agentskap of vanuit 'n land se beleid.


 Marzanne le Roux-Van der Boon beskryf in haar Israel-reeks boeke (uit die perspektief van Marc, ‘n Suid-Afrikaner wat in Israel woon) van die leefwyse en gedurige spanning tussen die Israelies en die Palestyne. Die boeke, alhoewel baie interessant, is baie pro-Israel, want die ander (Palestynse) kant van die saak word nie in die boeke gestel nie.


As kind wat in die VGK (Verenigende Gereformeerde Kerk) grootgeword het, het ons die tradisionele paadjie geloop van elke Sondag in die Sondagskool en kerk. Kinderbond en Jeugvereniging het ons verder in die Bybel geskool. Ons het baie geleer van die Israeliete as die uitverkore volk van God, maar net so terloops van die Palestyne.


Ons skoolopleiding het ook nie juis kritiese denke aangemoedig nie. Alles wat ons onderwysers en ander grootmense gesê het, is eenvoudig aanvaar as evangelie. Selfs later, as grootmens, was ek geneig om nie my opinie te lig as dit enigsins van iemand anders verskil nie. Ek wou altyd die vrede bewaar.


Geleidelik, soos ek ouer word, meer kennis opdoen en leer om te bevraagteken, besef ek ook dat vrede nie altyd met stilbly bewaar word nie. Inteendeel, die gevolg van stilbly is dat jy gereeld met jouself in ‘n oorlog betrokke is.


Daar is baie inligting op die internet wat die agtergrond van die konflik tussen Israel en Palestina verduidelik. war in palestine and israel - Search (bing.com) Dit is ‘n lang, ingewikkelde geskiedenis wat ek nie hier kan of wil herhaal nie.



Wat ek wel wil sê, is dat daar geen wenners in enige oorlog is nie en dat daar absoluut geen regverdiging kan wees vir die optrede van die Israeliese weermag nie. Die laakbare terroriste-daad van Hamas op 7 Oktober 2023, word sekerlik deur niemand goedgepraat nie, want gewone burgers is aangeval en doodgeskiet.


Israel se reaksie op die aanval is so buite verhouding, dat al hoe meer mense hul stemme dik maak oor die verbysterende oorlog waarin duisende onskuldige mense alreeds dood is. En soos Alan Boesak in ‘n toespraak herhaaldelik vra: “What about the children?" (www.youtube.com Dr Allan Boesak- Palestine – 75 years of occupation. How long still?)


My hart is swaar en ek huil oor die dood en trauma van die onskuldiges, veral die kinders. Israel word beskou as die uitverkore volk van God, maar hoe kan al die dood, verwoesting en lyding ooit die wil van God wees?



In Psalm 122 vra Dawid om te bid vir vrede in Jerusalem. Dit is ook my gebed. Vrede in Jerusalem, vrede in Palestina, vrede in die Oekraine, vrede oral waar mense sinnelose oorloë voer. Vrede in Suid-Afrika, waar duisende mense jaarliks vermoor word en ons is nie eens in ‘n oorlog betrokke nie.



Vrede vir jou tot ons weer gesels.

Shirley Rose


www.aljazeera.com “What’s the Israel/Palestine conflict about?”

www.theguardian.com “Israel and Palestine: A complete guide to the crisis”

www.asaf.org.za "The-role-of-the-humanities-in-a-time-of-displacement." A lecture by Loretta Feris

Some Pictures from Pinterest

 
 
 

Recent Posts

See All
Om 'n gegewe perd in die bek te kyk

Wie hou nou nie daarvan om ‘n geskenk te ontvang nie? Daardie afwagting terwyl jy die pakkie oopmaak en wonder: “Wat sou dit wees?” Die...

 
 
 
Op Robbeneiland

WAS JY AL DAAR? Op Donderdag 20 November 2024 besoek ek en Bertie Robbeneiland. Bertie vir die tweede keer en uiteindelik, my eerste...

 
 
 

Comentários


bottom of page