top of page

Eendag was daar...

EENDAG WAS DAAR...



Kleintyd was stories vir my die lekkerste lekker, selfs lekkerder as roomys wat ‘n skaars en luukse bederf was. Die probleem was altyd om iemand te kry om stories te vertel, gewoonlik moes mens eers soebat.


My ouma aan moederskant het ek glad nie geken nie; my ma was nog klein toe sy oorlede is. My ouma Bet het in Concordia, Namakwaland gebly en ek kan slegs enkele kere onthou toe ons by hulle gaan kuier het. Ouma was nie ‘n storieverteller nie en het ook nie veel erg aan ons kinders gehad nie.


Antie Lenie, my ma se oudste suster, was die naaste wat ons aan ‘n ouma-figuur gehad het. By haar het ons stories van die armsalige Uilspieël gehoor. Uilspieël het die domste goed aangevang en ek was gou verveeld met sy onnoselheid. Wonderlik was die ontdekking van storieboeke, want jy hoef niemand te soebat vir ‘n storie nie nie en kon jy soveel stories lees wat jy wou. (Dis nou tussen skottelgoedwas, tee-maak vir die grootmense en later, ook huiswerk.)


So nou en dan lees of hoor mens ‘n storie wat jy net móét oorvertel. Miskien vir die lekker daarvan en soms vir die onuitgespelde lewensles wat jy soos ‘n diamant ontdek. Een storie wat ek graag oorvertel, is die een van Achmat. Ek kan nie onthou óf dit die hoofkarakter se naam is nie en ek kan nêrens ‘n geskrewe weergawe daarvan kry nie. Ek vertel dus maar die storie soos ek dit onthou.



“Eendag was daar ‘n baie wyse man wat in die woestyn gewoon het, sy naam was Achmat. Achmat het die spoggerigste perd van almal in die omgewing gehad en mense het altyd die vurige hings bewonder. “Achmat,” het hulle dan gesê, “wat ‘n pragtige dier! Jy is só gelukkig dat hy aan jou behoort!” En wat sê Achmat? “Miskien, miskien nie.”



Op ‘n dag verdwyn Achmat se spogperd. Sy vriende voel vreeslik jammer vir die groot verlies en weeklaag: “Ai Achmat, dat so ‘n tragedie jou moes oorkom! Wat ‘n verlies!” Achmat vee so oor sy baard en sê: “Miskien, miskien nie.” Die mense verstaan glad nie Achmat se reaksie nie en gaan maar terug na hul eie tente.

‘n Paar dae later toe almal die oggend wakker word, gewaar hulle dat Achmat se spogperd teruggekom het en saam met hom was ‘n paar wilde perde. Verwonderd het almal weer om Achmat saamgedrom en hulle vergaap aan die pragtige perde, al was hulle ongetem. “Hoe gelukkig is jy tog, Achmat!” het hulle uitgeroep al was hulle so bietjie jaloers. Achmat glimlag en laat hoor: ‘Miskien, miskien nie.”



Achmat het ‘n seun gehad en hy was ‘n dapper jong man. Hy was sy pa se regterhand en dit sou sy werk wees om die wilde perde te tem. Hy het dan ook sommer die volgende dag aan die werk gespring. Dit was ‘n moeilike taak wat die seun weke lank besig gehou het.


Op ‘n dag kom iemand aangehardloop na Achmat se tent. “Achmat, kom gou! Daai wille perd het jou seun afgegooi en hy kan nie opstaan nie!” Achmat en die ander wat daar naby was het gehardloop na die plek waar sy seun gelê het. Hulle moes hom na sy tent dra, want hy het erg seergekry. Weereens het familie en vriende die situasie betreur en uitgeroep: “Jou enigste seun Achmat, en nou is hy verlam! Dit is baie sleg!” “Miskien, miskien nie.” was Achmat se enigste reaksie.


Die lewe in die woestyn het sy gewone gang gegaan, maar na paar jaar breek daar ‘n oorlog uit. Al die jong mans in die land is opgeroep om te gaan veg, maar omdat hy verlam was, is Achmat se seun vrygeskeld van sy verpligting. Almal was hartseer en bang om hul seuns na die oorlog te stuur. Sê nou hulle kom nooit weer terug nie? Hulle was afgunstig op Achmat omdat sy seun nie in die oorlog hoef te gaan veg nie. “Jy is so gelukkig!” het hulle hom beskuldig.

Wel, teen die einde van die storie, weet ons wat Achmat se reaksie was. Het jy ‘n diamant in die storie gevind?


As die kuns van storievertel uitsterf, sal dit ‘n leemte laat omdat die luister na stories kinders se verbeelding stimuleer. Daar is pragtige, geïllustreerde storieboeke vir kinders op die mark en ook die gewilde stories soos “Peppa Pig” op Televisie vir die kleinspan. Niks kan egter die vertel van ‘n storie klop waar kinders hul eie verbeelding moet gebruik om die prentjie vir hulle self te teken nie. Baie kinders verkies alreeds die tv bo boeke en ek wonder of hul aandagspan lank genoeg is om na ‘n storie sonder prente te luister.


Gesels met jou kinders oor jou kinderdae. Vertel van die stories en speletjies wat julle as kinders gehoor en gespeel het. Ouma en Oupa, vertel stories vir jou kleinkinders al kan hulle nie lank stilsit nie. Hou dit kort en lewendig met groot gebare en praat met verskillende stemme. Onthou, jy moet ongelukkig met die tv kompeteer.


Mag ons nooit die afwagting op dit wat volg na “Eendag was daar ...” verloor nie.


Lekker stories vertel tot ons weer gesels.

Shirley Rose

Illustrasies van Pinterest

63 views

Recent Posts

See All
bottom of page