top of page

Die storie van my potloodbaadjie

My Josefskleed


Die wêreld is ‘n wonderlike, fassinerende plek. Ek glo dat ons almal op een of ander manier aan mekaar verbonde is op vlakke waarvan ons nie eens bewus is nie.


Een van ons hedendaagse ikone, Ingrid Jones, het onlangs haar eie reeks “My Current Obsession” begin. Haar eerste reeks was ‘n versameling van vyftig jasse. Elkeen van die jasse is van ‘n verskillende materiaal gemaak en met ‘n persoonlikheid in gedagte. Elke jas is uniek en die styl daarvan is ontwerp om elke tipe figuur te pas.


‘n Paar weke gelede plaas Ingrid ‘n foto op Facebook van vyf jasse wat aan ’n klererak hang en een van die jasse trek onmiddellik my aandag. Ek kon nie die volledige jas sien nie, maar die gedeelte wat uitgesteek het, het kleurpotlode op ‘n wit agtergrond gewys. Op my navraag of die jas nog beskikbaar is, antwoord sy toe bevestigend en verlede Sondag kon ek my jas by haar gaan haal.


Dit was vir my vreemd dat die jas my so aangetrek het aangesien ek dit nie eens volledig gesien het nie. Die mees verklaarbare rede dink ek, was dat gedurende my onderwysloopbaan, inkleurpotlode deel was van my daaglikse gereedskap. Op ‘n manier simboliseer dit ook talle kleurvolle oomblikke van my roeping as onderwyser. My klaskamers was altyd kleurvol en hopelik ‘n gelukkige, veilige omgewing.


Ingrid gee my die mooiste kompliment deur te skryf dat sy my sien as “the quintessential teacher”. “‘n Gebore onderwyser” is seker die beste vertaling. Die kersie op die koek is toe my skoonsus Loretta met haar saamstem. Sy onthou van ‘n keer toe ons gaan fliek het. Een van my skoolkinders het, toe sy my so onverwags daar sien, uitgeroep: “Teacher, teacher” en na my toe gehardloop om my ‘n drukkie te gee. Kinders is so liefdevol en onskuldig en mens ontvang soveel meer van hulle as wat jy ooit kan gee.


So twee weke gelede begin my wederhelf om ‘n klomp familiefotos wat al lank in ‘n boks was, op sy rekenaar in te skandeer. Tussen die fotos is daar ‘n swart en wit kiekie van my as vyfjarige dogtertjie. Ek onthou die klere wat ek aangehad het, baie goed. Die rompie was koningsblou met fyn plooitjies en die bloesie het my ma op haar Singer gemaak. Ongelukkig kan mens dit nie op die foto sien nie, maar die materiaal het kleurvolle sorbet-strepe op ‘n wit agtergrond gehad. My onderbewuste moes die konneksie tussen die potloodbaadjie en my bloesie van lank gelede gemaak het.



Later onthou ek nog iets. My suster Valerie het aan my ‘n “Kreatiewe Joernaal-Bybel” met inkleurpotlode en -penne geskenk. Ek vind dit so terapeuties om minstens een maal per week notas in die Bybel te maak en die tekenblaaie in te kleur. Dit vorm ook ‘n onsigbare band met my suster, want ek weet sy doen dieselfde met haar Bybel.


My “styl-uniform” is ‘n broek, top en 'n "derde stuk" wat gewoonlik ‘n ongeknoopte bloese is wat ek daarby dra. Hierdie potloodbaadjie kan omtrent heeljaar as ‘n derde kledingstuk by my basiese stukke gedra word. In die somer verkies ek om rokke te dra en my vrolike jas kan ek ook met enige effekleurige rok kombineer.


Hierdie baadjie is vir my ‘n voorbeeld oor hoe ons oor ons klere kan voel; soos Marie Condo sê, ‘It should spark joy.” Die wete dat jou klere sonder woorde baie oor jou kan verklap en ook ‘n invloed op jou gemoedstoestand het, is miskien ‘n aansporing om jou klere meer oordeelkundig te kies.


Mag jou klere jou help om met ligter tred deur die lewe laat stap.


Tot ons weer gesels.

Shirley Rose




109 views

Recent Posts

See All
bottom of page