top of page

Die probleem in jou klerekas

Updated: Nov 29, 2023

SORTEER JOU KLERE EN PAK REG JOU KAS


Het jy geweet dat die meeste vroue slegs 20 – 30% van die klere in hul kas dra? Dit is die rede waarom jy ‘n kas vol klere het, maar niks het om aan te trek nie.


Daar is baie redes vir hierdie toedrag van sake:

· Klere wat nie pas nie;

· Jou klerestyl het verander;

· Klere wat uit die oude doos is;

· Jou klerekas pas nie by jou huidige leefstyl nie.

· Jou klere pas nie by jou huidige figuur nie.

Wenk: Alles in jou kas moet jy gereeld kan dra.


Kies 'n dag, skink ‘n koppie tee of ‘n glasie wyn, luister na lekker musiek en pak daardie klerekas.

1. Die eerste stap na ‘n werkbare klerekas is bitter medisyne: Haal ALLES uit, Maak ook laaie leeg en pak skoene ook uit. Alles op ‘n hoop op jou bed. (Skoene op die vloer, natuurlik!)


2. Sorteer in drie of vier groepe:

I. Klere wat jy nooit weer gaan dra nie. Verkoop of gee weg: Goeie kwaliteit items wat nie meer pas nie. Gooi klere wat voosgedra is, weg. Gee die klere wat nog goed lyk aan iemand anders wat dit nog kan gebruik.

II. Klere wat jy beslis gaan hou.

III. Die herstel/verstel/ maak droogskoon/was hopie.

IV. Items waaroor jy twyfel: Dis nog amper nuut; het seker een of twee keer gedra; Jy hou van die kleur; dit pas nog; miskien gaan jy dit nog nodig kry; en so meer.

Kom later terug na hierdie groep: Jy hou miskien van die kleur, maar het nog nooit gemaklik in die styl gevoel nie.

Iemand anders het jou oorreed om dit te koop, maar daar was net nooit ‘n geleentheid om dit te dra nie.

Indien jy dit in twee jaar nie gedra het nie, is die kanse skraal dat jy ooit sal.


3. Voor jy daardie items wat jy gaan hou, terug in die kas hang:

  • Doen enige herstelwerk wat nodig is (Knope wat af is, some of nate wat losgetrek is; klere wat gewas moet word of droogskoonmakers toe moet gaan.) Onthou, alles wat terug kas toe gaan, moet van die hanger af aangetrek kan word.

  • Kyk nou na alles wat jy gaan hou en baie dra: Sien jy enige ooreenkomste? Het jy ‘n voorkeur vir sekere style? Helder kleure, sagte kleure of oorwegend neutrale kleure? Hoekom voel jy gemaklik in die klere wat jy wil hou? Verkies jy langbroeke, leggings of rokke? Hou jy van sagte, vloeiende- of meer stywe materiale? Verkies jy ‘n sekere lengte vir rokke of rompe? Jou antwoorde op bogenoemde vrae behoort ‘n goeie beeld te gee van jou klerestyl.

4. Watter tekorte is daar nou in jou kas?

o Jou klerekas behoort jou leefwyse te weerspieёl: ‘n Kas vol formele klere terwyl jy eenmaal per jaar so ‘n funksie bywoon, sal nie werk nie.

o ‘n Kantoorwerker en iemand wat buitenshuis werk, se klerekaste sal nie dieselfde lyk nie. Selfs die kantoor-omgewing kan ook verskil van baie konserwatief tot kreatief.

o Iemand wat van die huis af werk, kan beslis meer informeel aantrek, maar neem in ag dat dit meer produktief is om aan te trek vir werk en nie heeldag in pajamas rond te slof nie. (Behalwe nou en dan as jy ‘n so ‘n dag nodig het.)

o Afgetredenes het gewoonlik ‘n informele leefstyl, maar om elke dag goed te lyk is goed vir die gemoed.


5. Maak nou ‘n lysie van items wat jy nodig het en hou daarby. Onthou dat dit nie nodig is om alles tegelyk te koop nie. (Tensy jy natuurlik kan!)

‘n Paar wenke:

Ø Koop die beste kwaliteit wat jy kan bekostig.

Ø Besluit op ‘n basiese neutrale kleur of twee bv. Swart, Navy, Taupe, Stone, ens. en bou jou klerekas daarom.

Ø Kies jou beste aksentkleure: die beste pienk/ rooi/ groen/ blou, ens.

Ø Kies minder bont items en meer effekleurige items.

Ø Sorg dat jy vir enige geleentheid ‘n gepaste item in jou kas het. Onthou dat ‘n vleiende rok in swart of ander vleiende, effekleur baie maklik met bykomstighede verander kan word om by ‘n geleentheid te pas. Dit is regtig nie nodig om vir elke geleentheid ‘n nuwe uitrusting te koop nie.

Ø Elke nuwe item wat jy aanskaf, moet by ten minste twee items in jou kas gedra kan word.

Ø Pak seisoengebonde klere weg sodat net die klere wat jy werklik gaan dra in jou kas hang.

Ø Dit is ‘n goeie idee om die proses een of twee maal per jaar te hersien. As jy iets in twee jaar nie gedra het nie, hoort dit nie in jou kas nie.



Na so ‘n dag van herorganisasie, behoort elke oggend voor jou kas ‘n plesier te wees. Volgende keer wys ek ‘n paar voorbeelde hoe om te meng en pas en ook hoe om dieselfde item meer of minder formeel te laat lyk.


Lekker sorteer en regpak tot ons weer gesels.

Shirley Rose


84 views

Recent Posts

See All
bottom of page