top of page

Die pad na Paasfees

Updated: Nov 21, 2023

As-Woensdag en Lent


Gedurende my vormingsjare in die N.G-Kerk, nou V.G.K., was ons glad nie bewus van die tradisie van As-Woensdag nie. Die eerste keer toe ek daarvan gehoor het, was toe ek in die Rooms-Katolieke Skool vir my St. 6-jaar (vandag Gr. 8) was.


As-Woensdag is deur Pous Gregorius (590-604) in die Rooms-Katolieke Kerk ingestel. Dit merk die eerste dag van veertig dae van vastyd waarin Christene hulself vir Paastyd voorberei. Dié dag word vandag ook in die Lutherse, Anglikaanse, Metodiste en Presbeteriaanse Denominasies gedenk.



Hoekom die as?

In antieke tye is hartseer en berou dikwels visueel uitgedruk. Mense het dan klere van ‘n growwe materiaal (sak) gedra en as op hul koppe gegooi. In die Ou Testament lees ons in Daniël 9:3: “Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking: ek het gevas, rouklere gedra en as oor my kop gegooi.” (Lees ook Jona 3:6)


Die vroeë kerk het hierdie tradisie in gedagte gehad om ‘n visuele teken van rou oor ons sondes te skep. Dit herinner ons dat Adam uit stof geskep is - die mens se sterflikheid en aanspreeklikheid teenoor God.


Op As-Woensdag word die teken van die kruis met as op mense se voorkoppe deur die priester aangebring met die woorde: “Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” (Genesis 3:19) Tradisioneel word die palmtakke wat gebruik word om die viering van Jesus se binnekoms in Jerusalem gedenk, verbrand. Die as daarvan word dan gehou vir die volgende jaar se As-Woensdag.



Die Dinsdag voor As-Woensdag was bekend as “Mardi Gras”, letterlik “Vet-Dinsdag”. Op dié dag was al die meel, eiers en olie in die huis opgebruik, want vir die daaropvolgende veertig dae was dit verbode. Die tradisie is om pannekoeke te maak met die bestandele. Mense het hulle gewoonlik op die dag ooreet om op te maak vir die vastyd.


Deesdae word Lent, ook Lydenstyd, soos die veertig dae voor Paasfees genoem word, deur minder mense onderhou. Daar is wel nog mense wat “iets” opgee wat vir hulle lekker is, byvoorbeeld koffie, sjokolade, wyn ensovoorts.


Die Mosaïek-Gemeente, wie se dienste elke Sondag op KykNET uitgesaai word, het ‘n gids vir die tyd van Lent op hul webwerf beskikbaar gestel aan almal wat hierdie tyd nie maar net gewoonweg wil aangaan met hul alledaagse lewe nie.


Persoonlik wil ek graag saam met Christene die wêreld oor stil word “Om my te vereenselwig met Jesus se lewe en lyding. Om te wag terwyl daar groei in ons plaasvind. Om stil te wees sodat God Sy werk in ons kan doen.”



LENT: DIE PAD WAT MIN NEEM (Die gids is gratis beskikbaar op www.mosaiek.com)

INHOUDSOPGAWE

03. Inleiding

05. Voorbereidingsweek: As-Woensdag

15. Week 1: NEDERIGHEID

25. Week 2: VREDE

37. Week 3: TREUR

49. Week 4: BARMHARTIGHEID

59. Week 5: REINHEID


Mag die volgende veertig dae tot Paasfees vir almal wat dit verlang, ‘n tyd van introspeksie en nadenke wees.


Groete tot ons weer gesels.

Shirley Rose


Bronne: Wikipedia, www.eferrit.com, www.noordwykgemeente.com, www.mosaiek.com, Coen Slabber se Blog.


59 views

Recent Posts

See All
bottom of page