top of page

Die dag toe ek granate gesteel het

Ek het ‘n ding oor granate, eintlik oor al die vrugte wat in die Bybel genoem word: vye, dadels, druiwe en rosynekoeke. En heuning, al is dit nie ‘n vrug nie.



Ek het selfs ‘n tafelmatjie met illustrasies daarvan gekoop toe ek en Val in Israel, “die land van melk en heuning”, was.


Numeri 13:27 En hulle (die manne wat gestuur was) het vir hom (Moses) gesê: Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning. En dít is sy vrugte.” (Druiwe, granate en vye.)





(Hoe hartseer is die gruwelike oorlog wat nou daar teen die Palestyne woed!)


Die afgelope naweek was ‘n groep familie, vriende en almal wat aan die dokumentêr “Vroedvrou” gewerk het, vir die première daarvan in Springbok. (Volgende keer vertel ek meer oor die besondere ervaring.)



Ons het in die pragtige Blue Diamond Lodge tuisgegaan en saamgestem met Ingrid dat die tuin mens aan Griekeland herinner. Paadjies wat jou lei na interessante hoekies in die pragtige tuin met blou swembaddens, waterfonteintjies en sitplekkies tussenin.


Die gastehuis bestaan uit verskeie eenhede en is sekerlik oor drie,miskien vier, ruim erwe versprei. (Daar is 'n goeie verskeidenheid foto's op Google.)


Daar is ‘n braaiplek onder ‘n lapa asook een waar mens kan braai terwyl jy ‘n asemrowende uitsig oor die dorp geniet. Jy moet egter eers ‘n paar trappe teen ‘n koppie uitklim om daar te kom, maar die beloning is die moeite werd.


Aan die een kant van die lodge was ‘n parkie met swaaie en klimraam vir kinders waar Joshua en Mia lekker kon speel nadat hulle in die swembad baljaar het.


Vir my was die “pièce de résistance” ‘n granaatboom in die parkie.


Ek wou nog altyd granate in die bak op my eetkamertafel hê, maar tussen R39 tot amper R60 elk, wou ek nooit byt nie. Ek was seker dat indien ek sou vra, die gawe eienaar van die gastehuis die granate aan die boom aan my sou gee, of ten minste teen ‘n beter prys verkoop.

So pluk ek een oopgebarste granaat en twee mooies van die boom af, van plan om eers te doen en dan te vra.



Ons is toe daar weg sonder dat ek die eienaar se toestemming vra. My gewete pla my so dat ek die gastehuis bel en vir Beverly vertel dat ek hul granate gesteel het en aangebied om ‘n elektroniese betaling vir die granate te maak.


Sy het geskater van die lag en my verseker dat hulle nie eers die granate sou mis nie en dat ek myself glad nie meer daaoor moet bekommer nie. Ek kon toe met ‘n skoon gewete die granate op my eetkamertafel uitstal.



Ek onthou granaatbome gedurende my grootword-jare in Keimoes en dat granate nie vrugte was wat hoog aangeskryf was nie. As kinders het ons dit wel soms geëet, maar meestal het die vrugte maar net later van die bome afgeval.


Vandag gebruik Suid-Afrikaners hierdie mooi vrugte en word die pitte wat soos robyne lyk, gebruik in slaaie en granaatsap is verfrissend, gesond en ook nie té soet nie.


Granaatsap bevat glo ook anti-oksidante wat inflamasie van die ingewande kan verminder.

 “Dit het meer anti-oksidante as rooiwyn en groentee en een bediening van granaatsap verskaf meer as 40% van ‘n mens se daaglikse vitamiene C behoeftes.”

  

Dieselfde artikel verklaar dat granaatpit-olie vrye radikale beveg en velveroudering verlangsaam.


Die olie is glo ook ryk in rare omega 5 essensiële vetsure wat beskadigde selle help herstel en het positiewe resultate getoon in vroue wat ly aan endometriose.


www.southafrica.co.za : Oes en verwerking van granate.

 (Uittreksel uit ‘n artikel wat uit Engels vertaal is deur Elna Van Rhyn.)


Die botaniese naam van die granaat is Punica Granatum. Dié klein boompie groei tot tussen 5 en 8 m hoog. In die Suidelike Halfrond is oestyd van granate vanaf Maart tot Mei. (Wikipedia)


Granaatsteen (Garnet): Geboortesteen vir Januarie

Hierdie mooi halfedelsteen is na die granaat vernoem omdat dit lyk soos die mooi rooi pitte van die granaat.


Foto's van Pinterest


Simboliese betekenis van granate:

In die Griekse mitologie was die granaat ‘n simbool van vrugbaarheid en skoonheid. Dit was veral geasosieer met die godinne Demeter, Persephone, Aphrodite en Athena. www.alimentarium.org


Die eerste verwysing na granate in die Bybel, is in Eksodus waar ons lees dat die soom van die Hoë Priester Aaron se kleed met simbole van granate versier was.


“Volgens Joodse tradisie dra elke granaat 613 pitte wat die 613 wette van die Tora verteenwoordig. Die Jode eet ook ‘n granaat wanneer die Sabbat verby is om God se oorvloedige seën, soos die granaat se pitte, te vra. Die “Granaat-gebed”

“Die “kroon” van die granaat simboliseer die koningskap van God en net soos die Dawidster, het die granaat-kroon ook 6 punte.”


Geleen van Facebook: Krag in Die Bloed van die Lam (11 Augustus 2019)


In kuns word die granaat soms gebruik om die opstanding en die ewige lewe in Christus te simboliseer.



Hierdie Paastyd bring my jongste ervaring met dié besondere vrug nuwe betekenis vir my en sal ek nooit weer dieselfde na die nederige granaat kyk nie.





Paasgroete en seën vir die Pase.

Shirley Rose


Kuns van Madonna en Kind vanaf Pinterest.

 
 
 

Recent Posts

See All
Om 'n gegewe perd in die bek te kyk

Wie hou nou nie daarvan om ‘n geskenk te ontvang nie? Daardie afwagting terwyl jy die pakkie oopmaak en wonder: “Wat sou dit wees?” Die...

 
 
 
Op Robbeneiland

WAS JY AL DAAR? Op Donderdag 20 November 2024 besoek ek en Bertie Robbeneiland. Bertie vir die tweede keer en uiteindelik, my eerste...

 
 
 

Comments


bottom of page