top of page

Boeke met skop

WANNEER LAAS HET JY EEN GELEES?

Een van my lekkerste uitstappies is na die biblioteek. Die voorreg van toegang tot al daardie boeke, is ver meer as robyne, om die Bybelse maatstaf te gebruik. Die beste sou wees om elke skrywer wie se boeke ek lees se werk te koop, maar boeke is duur en ek koop waar ek kan.


Gewoonlik neem ek boeke uit vir ontspanning en plesier, die lewe is swaar genoeg; maar sluit altyd ook een of twee met meer van ‘n uitdaging in. Twee sulke boeke in my laaste oes was “Kindred” van Octavia E. Butler (2018) en “Kinnes” van Chase Rhys (2018).


Octavia E. Butler vertel die verhaal van Dana wat heen en weer tussen die hede (1976) en die verlede (1815) deur middel van time travel beweeg. Sy word elke keer wanneer ‘n (wit) voorsaat Rufus, in lewensgevaar verkeer, uit die hede gegryp om hom uit gevaar te red. Die verlede speel af op ‘n plantasie in Maryland en Dana moet telkens haar weg vind in die slawerny-nagmerrie van daardie eeu.


Die boek herinner aan Audrey Niffenegger se “The time traveler’s wife” (2003) ten opsigte van die idee om heen-en-weer tussen tyd te beweeg, maar is wat die storie betref, uniek en boeiend. Dit is nie ‘n ligte-lees nie, maar het my nie naasteby geaffekteer soos Chase Rhys se “Kinnes” nie.


Chase Rhys se boek, wat toevallig ook in 2018 gepubliseer is, was op my radar en ek was bly toe dit in die biblioteek beskikbaar word. Die “Kinnes” in die titel verwys na die jongmense van ‘n denkbeeldige “Jurassic Park”, ‘n woongebied op die Kaapse Vlakte. “Jurassic Park” kan vervang word met enige van die huidige woonbuurte op die Cape Flats, want mens herken die omstandighede en karakters in die novelle.


Om eerlik te wees, ek was nie haastig om “Kinnes” te lees nie. My vermoede van ‘n maagskop-boek was waar, al skryf Nathan Trantaal ook op die stofomslag: “’n Character study van kinnes innie warzone vannie Cape Flats. Baie, baie funny en intensely moving.”

Mercy Kannemeyer skryf ‘n goeie resensie op Litnet en ek stem saam met die meeste stellings wat sy maak. Aan die einde skryf sy: “Rhys kry dit reg om ‘n snaakse, dog eerlike en menslike verhaal te vertel wat tot mense van die lewe sal spreek.” Weer die verwysing na die komiese.


Ek wonder wat het van my sin vir humor geword, want vir my is daar min tot niks snaaks in die boek nie. Ons mense het nog altyd ‘n vlymskerp sin vir humor gehad en ons ken die gevatte sêgoed en “come backs” wat moeiteloos heen-en-weer vlieg. Virseker help ‘n sin vir humor om die swaar van die lewe in die oë te kyk en vir baie is dit ‘n manier van oorleef, maar "snaaks" is nie een van die woorde waarmee ek "Kinnes" sou beskryf nie.


Ja, die verhaal is eerlik, goed geskryf en die karakters word lewendig in die leser se verbeelding; die verhaal is 'n geloofwaardige weergawe van die lewe op die Kaapse Vlakte. Chase Rhys wen in 2017 die Adam en Rosalie Small-prys vir debuutskrywers, wat nog ‘n getuigskrif is van die jong skrywer se talent.



Rolanda is seker die karakter wat komiese verligting moet bring met haar obsessie met “steil” hare, ambisie om ‘n “influencer” te word, met ‘n ryk “berk” te trou en in ‘n “white area” gaan bly. Vir haar sou ek, net soos die ander “kinnes”, teen my wou vasdruk en sê: “Ai, my kind.”


Ek lees van Mary wie se moederliefde haar kind ten alle koste wil beskerm, maar haar blind hou vir sy onwettige bedrywighede. Wat sou ek in dieselfde omstandighede gedoen het? Jongmense met ambisie en verstandelike vermoë wat keer op keer deur omstandighede gefnuik word om hul droom te leef, laat my met gevoelens van magteloosheid en fatalisme.


Die meeste mense van my geslag het arm grootgeword en die wat beter af was, was maar dun gesaai en allesbehalwe “ryk”. Tog voel die omstandighede van daardie jare vir my beter as die raw deal van die “kinnes” op die Cape Flats.


Gedurende my skoolhou-jare in Ravensmead, Kalksteenfontein en Bonteheuwel, kon ek ‘n kykie kry in die lewens-omstandighede daar. Kinders wat grootword met afwesige pa’s, enkel-ma’s en ouma-kinders wat nóg ma, nóg pa se invloed ken. Kinders wat grootword met ouers wat ook nog kinders is, werkloosheid en die bose kringloop van armoede. Dis vir hierdie kinders wat ek voortdurend die uitkoms wat “geleerdheid” bied, soos ‘n verleidelike prys voorgehou het.


Daar is wel gesinne op die Cape Flats wat intakt is en baie ouers voer ‘n verbete stryd om die beste vir hul kinders te gee. Sommige ouers weier selfs dat hul kinders buite speel en probeer hul bes om omgewingsinvloede uit te hou, maar hoe effektief kan dit wees? Daar styg wel kinders bo hulle omstandighede uit, maar my hart breek vir diegene wat dit nie maak nie.


Hierdie treffende twee boeke sal lank by my bly en bewys weereens die impak van ‘n goeie boek. Doen jouself ‘n guns en lees Chase Rhys se boek. Sy nuwe boek “Misfit” is so pas (Julie 2022) gepubliseer deur Kwela Uitgewers en is beslis op my leeslys.



Groetnis en lekker lees tot ons weer gesels.

Shirley Rose

 
 
 

Recent Posts

See All
Om 'n gegewe perd in die bek te kyk

Wie hou nou nie daarvan om ‘n geskenk te ontvang nie? Daardie afwagting terwyl jy die pakkie oopmaak en wonder: “Wat sou dit wees?” Die...

 
 
 
Op Robbeneiland

WAS JY AL DAAR? Op Donderdag 20 November 2024 besoek ek en Bertie Robbeneiland. Bertie vir die tweede keer en uiteindelik, my eerste...

 
 
 

Comments


bottom of page