top of page

Begrafnis op Ladismith

BEGRAFNIS OP LADISMITH

Die tyding dat ons strooijonker van 45 jaar gelede skielik oorlede is, laat my weereens besef dat jou lewe enige tyd en sonder waarskuwing tot ‘n einde kan kom.



Dood is altyd ‘n swaar slag, selfs al verwag mens dit, maar wanneer dit onverwags gebeur, tref dit die familie met ongeloof en skok. “Ek het dan net nog die vorige dag met hom gepraat en hy het niks gekla nie.” is maar een van die versugtinge van verslae familielede.


Ons het Pieter lanklaas gesien en het nie kontak behou deur die jare nie. So ‘n jaar gelede ry ons deur Ladismith en gaan so vra-vra deur die woonbuurt: “Waar bly Mnr. Herandien?” Almal op ‘n klein dorpie weet gewoonlik waar die skoolhoof bly en daarom was ons binne minute by sy adres. Ongelukkig was hulle nie tuis nie.


Die beste deel van ‘n begrafnisdiens, vir my, is die huldeblyke. Woorde wat ‘n volkleur illustrasie teken van die oorledene soos gesien deur familie, vriende en kollegas. Die beeld van Pieter as ‘n goeie mens, broer, pa en skoolhoof word deur sy oudste suster, dogter, vriend en kollega vir ons duidelik. My sus Val sê dat mens eintlik maar deur jou lewe jou eie huldeblyk skryf. Inderdaad.




Die weersiens van mense wat jy lanklaas gesien het, is ‘n bietjie soet by ‘n begrafnis. Sommige mense sien ek af en toe op Facebook, ander het byna onherkenbaar verander deur die jare, nóg ander herken ek onmiddelik al het ek hulle jarre gelede gesien. Almal is natuurlik ouer en is al grootouers met die spore van soet en suur van die lewe op hul gesigte.


Pieter (asook sy een suster), was saam met my op laerskool in Keimoes. Hy was ‘n skrander leerder en het na verdere studies by ons plaaslike hoërskool as die goeie Geskiedenisonderwyser naam gemaak. Hy en Bertie was vriende sowel as kollegas, daarom was hy sy strooijonker. Hy was ‘n man van vele talente en was ook seremoniemeester by Valerie en swaer Basil se troue.


Hy was ook mý geskiedenisonderwyser al was ons albei 1955-babas. Dit het gebeur na aanleiding van ‘n situasie wat seker net in Suid-Afrika kan ontstaan.

Ek het mos na St.8, vandag se Gr, 10, as kindertuin-onderwyser gaan kwalifiseer, net omdat dit daardie jare moontlik was. My begeerte was egter om matriek te slaag en selfs later ‘n BA-graad aan te pak. Daar was by tye aandskool in Keimoes vir mense soos ek wat graag verder wou studeer. Soms het meeste mense tou opgegooi en dan het die klasse gestop, telkens weer begin en weer doodgeloop.


Op die ou einde het ek wel matriek geslaag en kan ek persoonlik getuig van die besondere talent wat Pieter as Geskiedenis-onderwyser gehad het. Hy het Gekiedenis op ‘n manier aan kind en grootmens oorgedra wat jou meegevoer het. Geskiedenis was natuurlik ook een van my vakke toe ek uiteindelik my BA graad verwerf het.



Ladismith is ‘n pragtige, tipiese Klein Karoo-dorp met pragtige berge en die kenmerkende “gesplete” Towerkop in die agtergrond. Hierdie kop word oral as simbool van Ladismith gebruik: van die handelsmerk op hul kaas tot deel van ‘n muurbehangsel in die VG Kerk.


Ons gaan tuis in Ladismith Manor waar die werklikheid en die fotos op die webtuiste ooreenstem, maar ai, kom ons sê net dat ek nie weer by dié “manor” sal tuisgaan nie.


Sondagoggend geniet ons eers ontbyt by “Sophia bakery & coffee bar” voor ons die langpad terug huistoe aanpak. Teen een muur is daar fotos van Sophia na wie die plek vernoem is. Sy is die eienares se ouma en daar is nog fotos van ander familie in haar stamboom. Die fotomuur verleen persoonlikheid en ekstra flair aan dié nuwe coffee shop. Ek en Bertie bestel albei die “Sophia Ontbyt” wat bestaan uit ‘n croissant, roereiers, spek en tamatie.



Ons gaan maak ‘n vinnige draai by “Ronnie’s sex Shop” op Route 62 om te kyk of daar al enige opgradering was sedert ons jare gelede uit nuuskierigheid daar gaan inloer het. (Meeste mense weet dat dit alles behalwe 'n "sex shop" is, maar wel 'n stilhou-plek vir koffie en iets om te eet. Die "sex" is agterna teen die muur bygevoeg om reisigers te lok.)


Nee wat, alles is nog presies dieselfde, moeë dekor. In die kroeg hang dieselfde klomp bra’s soos vantevore, die kleure nou verbleik deur stof en tyd. Daar is darem tafels en banke buite onder sambrele waar 'n paar bikers brunch geniet. Op die mure het ‘n goeie persentasie van Suid-Afrika se bevolking hulle name neergeskryf. Wat beweeg mense om dit te doen? Het hulle nog nie die uitdrukking gehoor van “Gekke en dwase skryf hul name op deure en glase.”

Die Klein Karoo is een lang vallei van 350 kilometer wat strek van Montagu in die weste tot Uniondale in die ooste. Die streek is net tussen 40 en 60 kilometer breed en byna heeltemal omring deur berge. In die noorde is die Swartberge met die Langeberge en Outeniqua-berge in die suide. www.karoo-suidafrika.com


Die lang pad huistoe is een groot lekkerte. Die veld is groen na goeie reëns en saam met die berge in die agtergrond, ry ons deur 'n galery van natuurskoon. Vanaf ‘n hoogtetjie in die Tradouwpas sien ons 'n groen vallei met Barrydale knus aan die voet van die berg.


Op die plase rondom Montagu bars vrugtebome uitbundig uit in pienk en wit bloeisels. Die skouspel staan uit teen die gevlegde, bruin wingerde, nog sonder blare. Vygies en ander veldblomme is al oral te sien, te haastig om vir September te wag. Die vars geur van kruie vergesel ons tot verby Robertson en netso, is ons deur Worcester en by die huis.



Dit was goed om Pieter te gaan groet, met sy familie te wees en ook om weer 'n geleentheid te kry om deur ons mooi land te reis.


Reisgroete en voorspoed tot ons weer gesels.


Shirley Rose

172 views

Recent Posts

See All
bottom of page