top of page

AFSKEID

TOTSIENS, RUBY


Die afgelope Saterdag 16/12/23, het ons afskeid geneem van Rebecca Pauline Jordaan néé Truter. Volgens Sheila, haar suster, het hul ma haar “Ruby” genoem en dit is hoe almal haar geken het.



Daar was baie mense wat Saterdag vir Ruby gaan groet het, die kerk was vol. Die huldeblyke het haar beskryf soos ons haar almal geken het: ‘n warm, hartlike vrou wie se talente min perke geken het.


Die eerste keer toe ek Ruby Jordaan ontmoet het, sal ek altyd onthou.

Ons het nog in Keimoes, Noord-Kaap, gebly toe ons haar man, Paul Jordaan, ontmoet het. Hy het as Algemene Sekretaris van die destydse KPO (Kaaplandse Onderwys-Unie) in ons streek kom werk.


Paul was charismaties, gulhartig en gasvry en het ons mettertyd genooi om by hulle in die Kaap te gaan kuier. Ons het toe een vakansie in 1979 die uitnodiging aanvaar en die uittog Kaap toe met twee klein kinders aangepak.


Alize en Leanne was nog klein en vir die agt/nege ure op die pad vanaf Keimoes na Kaapstad, het ek hulle op die agterste sitplek probeer besig hou. Alles het heel voorspoedig verloop tot ons in die Kaap aangekom het.


Daardie tyd was daar nie GPS of enige ander katoeter wat jou reguit na ‘n adres kon neem nie. Ons het hopeloos verdwaal, want ons het geen idee gehad hoe om in Matroosfontein, waar hulle destyds gebly het, te kom nie.


Toe ons uiteindelik by hul huis kom, was my twee meisiekinders honger en moeilik, want die fles gekookte water vir melk op die pad, is toe al gedaan. Dit het ons toe nog die beste deel van ‘n uur geneem voordat ons uiteindelik voor hul deur stilgehou het.


 Ruby het ons met soveel warmte en begrip ontvang en my gehelp om die tweetjies in die bad te kry en te voed. Sy het my soos ‘n suster ontvang en dit het nooit verander nie.


Daardie tyd was Ruby se tweeling-seuns, André en Eldrid, omtrent so oud soos Leanne en Alize was ‘n jaar ouer. Haar Pa en susters Elma en Sheila, het ook by hulle gebly.  Ruby het ‘n hart so groot soos die Heer se genade gehad en in haar huis was daar altyd plek.


Toe ons jare later Kaap toe kom trek het, het ons om die draai van die Jordaans in Belhar ‘n huis gekoop. Die dag met ons intrek was Ruby gereed met ‘n warm ete, ‘n vars brood en baie liefde.


Ruby was die soort mens wat, indien sy jou as ‘n vriend aanvaar, onvoorwaardelik aan jou kant was. Sy was lief vir mense en het sommer ekstra myle meer gestap as wat enigiemand van haar verwag het. Hulle huis was altyd vol mense.


Hul vriende was nie net van die Kaap nie. Net soos ons, het honderde mense regoor die Kaapprovinsie, die Jordaans deur die KPO leer ken en bevriend geraak. Vakansietye het hulle altyd gaste gehad. Intussen het Ruby voltyds gewerk.


Kos was Ruby se passie en liefdestaal. Sy kon die smaaklikste kos maak en haar kerrie en skons was legendaries. By die kerk, vir begrafnisse en tydens KPO-kongresse in die Kaap, was haar organisasie-vermoë en kookvernuf om vir baie mense te kook, hoog in aanvraag.


Hierdie passie en kooktalent het oor die jare toegeneem en het dit mettertyd tot ‘n winsgewende spysenierings-besigheid, Ruby’s Kitchen, ontwikkel. Ruby sou soggens 4 uur al besig wees in die kombuis en het soms deurnag gewerk om ‘n vars-voorbereide produk aan kliënte te bied. Al haar kliënte kon gevolglik getuig van die uitmuntende gehalte van haar kos en dienste.


As ‘n toegewyde Christen was Ruby se plek in die kerk by uitsondering leeg. Ds. Lewellyn McMaster se boodskap by haar begrafnisdiens was beskrywend van haar lewe: “Want vir my is die lewe Christus, en die sterwe, wins.” Fillippense 1:21-23


Sy het tot ‘n paar jaar gelede, nadat sy uit Belhar getrek het, met haar ryk alt-stem in die kerkkoor gesing. In die koor het sy oor die jare heen in elke posisie gedien; voorsitter, sekretaris, kassier of bestuurslid. Koorsang was sekerlik nog ‘n passie van Ruby.


Die koor het Ruby paslik vereer en het onder leiding van Marilyn Mathys ‘n roerende weergawe van “Abide with me” gelewer.


Vir menige fondinsameling van die kerk het Ruby haar gewig ingegooi. Deur die jare was sy medeverantwoordelik vir derduisende rande wat vir die kerk ingesamel is. Sy was die spreekwoordelike deugsame vrou van Spreuke 31.


Twaalf jaar gelede het Ruby haar geliefde lewensmaat, Paul, aan die dood afgestaan. Dit het haar hard geslaan, maar Ruby het met geloof en vasberadenheid die leisels in haar bekwame hande geneem totdat sy weens swak gesondheid nie meer kon nie.


Amptelik laat sy twee seuns, ‘n dogter en skoondogter, drie kleinkinders, twee susters en ander familie na. Inderwaarheid was sy vir haar vriende meer soos 'n geliefde suster en het sy baie meer susters en broers nagelaat.


Hierdie merkwaardige vrou het in haar lewe alles gegee: liefde, lojaliteit, energie, haar talente en vermoëns. Mag sy nou in vrede rus.


Tot weersiens Ruby, met liefde en waardering.

Shirley Rose

 
 
 

Recent Posts

See All
Om 'n gegewe perd in die bek te kyk

Wie hou nou nie daarvan om ‘n geskenk te ontvang nie? Daardie afwagting terwyl jy die pakkie oopmaak en wonder: “Wat sou dit wees?” Die...

 
 
 
Op Robbeneiland

WAS JY AL DAAR? Op Donderdag 20 November 2024 besoek ek en Bertie Robbeneiland. Bertie vir die tweede keer en uiteindelik, my eerste...

 
 
 

Comments


bottom of page